3 April 2013

{Mooi in} Rooi Lipsel Rooi Fluweel Tert

Vanoggend toe ek opstaan en my klerekas bekyk, het ek gevoel soos destyds toe ek nog mevrou-mevrou gespeel het, my ma se hakskoene aangetrek het, my ouma se aan'clip' oorbelle gedra het en rooi lipsel aangesmeer het tot bokant en onderkant my liplyne. Die enigste verskil was dat ek nou reeds al 'n 'mevrou' was, my eie pruim-kleur hofskoentjies aangetrek het en my lipsel meer na pruimpienk 'tint' as na rooi - maar van binne het ek nogsteeds soos 'n kind gevoel. Steeds so opgewonde oor die tooisels wat ek myself mee optof en nuuskierig, want wie weet wat die rooi-lip-dag sal inhou! 

Daar is iets hartliks, warm en natuurlik uiters aantreklik aan dié kleur, dis mooi, dis volrond, dis kleurvol, dis ryk, dis diep, dis rooi. Vandag se resep is alles behalwe 'n rooi 'suur pruim'. Dis soet, dis sappig, dis sag...en ek het dit 'gedoop' in rooi, ek het dit gedoop:
Rooi Lipsel-lekker Rooi Fluweel Tert!

Bestanddele:
{Rooi Fluweel koek Tert-bodem}
30g Stork Bake
75g strooisuiker
1/2 eier
4g kakao 
10ml rooi kleursel
2ml vanielje
1/4 k karringmelk
75g meel
knypie sout
1/4 t koeksoda
1 t wit asyn
{Bo-op}
3 pruime
20 blokkies karamel toffies
1 koppie melk

Metode:
{Koek/Tert bodem}
Voorverhit oond op 180*C. Room Stork Bake en suiker. Klits eiers by. Meng kleursel, kakao en vanielje en voeg my eier-mengsel. Sif meel by en voeg karringmelk by. Voeg laastens koeksoda, asyn en sout by. Meng deeglik.
Smeer 'n losbodem tert pan met 'n klein bietjie Stork Bake. Gooi beslag uit in pan en bak vir ongeveer 20 minute. Haal uit die oond uit en laat dit afkoel. Haal die tertbodem uit en plaas koek op 'n mooi bord.
{Bo-op}
Smelt 20 blokkies karamel toffies in die melk oor medium hitte - moet nie kook nie. Totdat 'n karamel kleur medium dikte sous vorm. Haal van die stoof af. Verwyder pruime se pitte en sny in skywe. Plaas die pruim skywe in die karamel sous en verhit op stoof vir nie meer as 3 minute nie. Jy wil net hê dat die pruim met die karamel sous meng, die pruime moet nie pap gekook word nie. Wanneer al die pruim skywe bedek is met die karamel sous, haal die sous van die stoof af en gooi oor Rooi Fluweel koek tert-bodem.


Sonder dat jy bewus is daarvan sal hierdie tert - net soos rooi lippe - 'n mens se mond laat 'pout' van lekkerkry!

No comments:

Post a Comment